:: 2002 Nuusbrief
hystoe :: wat's nuut :: joernaal :: allerlei :: gasteboek

Hallo liewe vriende en familie!

Ons wil julle graag bietjie meer van ons jaar vertel! 2002 was werklik 'n jaar van onvergeetlike vakansies vir ons! Ons het die jaar afgeskop met 'n romantiese viering van ons 3de huweliksherdenking, in die sneeubedekte Catskills berge van New York. Hier het ons geleer ski, wat groot pret was - soveel so dat ons weer en weer moes gaan. Marésa het kort na ons vakansie geleer snowboard en Jan dadelik (suksesvol) oortuig dat dit by verre die bobaas manier is om by 'n berg af te gly!

Einde Maart het ons die kortste besoekie nog aan Suid-Afrika toegestaan, 'n skamele twee weke waarin ons net nie alles ingepas kon kry wat ons so graag sou wou nie! Die hoogtepunte was sekerlik Jana & Schalk se troue, (Jana is 'n baie dierbare vriending van ons, sy was Marésa se strooimeisie) en 'n heerlike week in Amanzimtoti op die strand.

By verre die beste vakansie wat ons nog ooit gehad het, was 'n week lank in die Suidweste van Amerika. Hierdie verassing vakansie vir Marésa se verjaardag het ons oor 2,700km van dorre woestynagtige Arizona en die suide van Utah laat kronkel tussen die natuurlike wonders wat Amerikaners so trots op hul land maak. Ons het o.a. die Grand Canyon, Bryce Canyon, Monument Valley en Petrified Forest besoek. Dit was asemrowend en van onskatbare waarde omdat ons 192 aaneenlopende ure vir mekaar kon hę. Ons sou nooit in woorde alles kon sę wat ons beleef het nie, en selfs foto's gee dit nie volle reg nie, maar besoek gerus ons website, ons het baie van die foto's daarop!

Met Marésa se werk gaan dit baie goed, die Here het haar werklik geseën hierdie jaar. Sy word baie hoog aangeskryf deur haar bestuurder en kollega's. Marésa is ook in die proses om haar aptekerslisensie in Delaware te kry. Jan se navorsing vorder ook baie goed. Hy het die geleentheid gehad om sy werk by die jaarlikse konferensie vir die American Institute of Chemical Engineers in Indianapolis, Indiana aan te bied, wat goed gegaan het. Die "home stretch" het nou werklik aangebreek, teen Augustus 2003 behoort hy klaar te wees met die Ph.D!

'n Hoogtepunt van hierdie jaar was verseker Pa & Ma Jacobs se besoek einde September tot middel Oktober. Dit was so 'n seëning om hul die eerste keer in ons huis te onthaal sedert ons getroud is, en so baie tyd saam met hulle te kon spandeer. Dit was 'n opwindende en vol drie weke, van Lés Miserables op Broadway in New York City, die mielieland doolhof in Lancaster Pennsylvania en die Withuis in Washington D.C. Pa & Ma het hul gate uitgeniet en ons inspireer met hul avontuurlustigheid en opgewonde waardering vir die nuwe ervaringe.

Ons is so dankbaar vir al die wonderlike dinge wat die Here ons hierdie jaar geleer het. Marésa is in besonder dankbaar vir die wonderlike ryk verhoudinge wat sy hierdie jaar met haar vriendinne ontwikkel het. Hulle ontmoet gereeld en is 'n bemoediging vir mekaar, hou mekaar opreg en moedig mekaar aan in hul verhouding met die Here. Ons is ook dankbaar vir die wyse waarop die Here ons gebruik het in ons selgroep, asook die Bybelstudie groep wat Jan saam met Pete en Prankul (twee vriende) by die lab hou. Die groep het werklik gegroei hierdie jaar en is 'n unieke en uitdagende geleentheid om deur die Here gebruik te word!

Ons gebed vir 2003 vir ons lewens, maar ook vir elkeen van julle s'n, is dat God werklik in ons lewens sal regeer. Dat ons elke oomblik van 2003 in totale oorgawe aan Hom sal lewe, sonder om terug te hou. Ons staan op die randjie van die volgende hoofstuk in ons lewe, ons gebed is dat die Here ons wysheid sal gee, dat Hy ons koers sal bepaal.

Baie lief vir julle almal!

"Die Here bepaal die koers van die mens met wie se pad Hy tevrede is, en Hy ondersteun hom." ~ Psalm 37:23~

hystoe :: wat's nuut :: joernaal :: allerlei :: gasteboek

© 2001-2003 Jan & Marésa
Laas opdateer 1/10/2003