Lessenaar Dag
1 Desember2001
hystoe :: wat's nuut :: joernaal :: allerlei :: gasteboek

Kyk vrinne en familie, vandag was 'n ander dag. Die lessenaar is gister afgelewer (ons het dit eintlik eers Maandag verwag) wat my toe daartoe noop om die geleentheid te gebruik om dit vir Maresa 'n verassing te maak. Sien sy't gister en vandag gewerk. Ek het gisteroggend eers na haar werk toe gegaan en het dus die afleweringsouens gevang toe hulle kom. :) Anyways, die boks waarin die lessenaar gekom het was seker 'n goeie 100kg swaer, ek weet nie. Anyways, ek stoot my toe woes aan die ding hier in die huis rond op soek na wegsteekplek waar Maresa nie sal merk nie. Uiteindelik kry ek met groot gesukkel die ding so effe onder die bed in. Wel, Maresa is op hoogte van haar huisdinge, so die aand vra sy vir my hoekom die bed so skeef staan, ek reken toe nee ek wetie. Gelukkig het sy nie agtergekom nie! Selfs nadat sy deur die nag haar toon teen die boks gestamp het! Sy't net vanoggend aan my opgemerk "Sjoe, maar die bed moet omtrent skeef staan want ek het gisteraand my toon teen een of ander rekenaarboks of 'n ding gestamp". Nou ja, om 'n lang storie kort te maak, sy's uiteindelik vanoggend hier by die huis uit sonder om die boks te merk. So vandag vrinne, was dit my missie om hierdie gedoente aanmekaar te sit. En sonder om nou windgat te raak, dit was lag-lag die mees gekompliseerde projekkie wat ek nog so op my eis aangepak het. :) Sweer. Maar dit was groot pret, al het die hele episode (plek maak, lessenaar aanmekaarsit en uiteindelik alles weer op hul plek en die huis aan die kant) my amper SEWE ure geneem het! :)) Ja lag maar...

Hier't ek net begin om goete uit te pak. Moet bieg, op hierdie stadium was ek effe senuagtig, ook siende dat ek net houte uithaal en niks instruksies nie. Die boks was 'n meesterwerk wat plekbesparing aanbetref, daar was nie plek vir 'n muggie in daai boks saam al die houte en goete nie!

My eerste mission was om al die verskillende onderdele te identifiseer. Dit het my 'n goeie halfuur besig gehou. Toe ek uiteindelik die instruksieding kry, het ek probeer om die parte op te match met die prentjie, wat nie baie suksesvol was nie. Uiteindelik het ek gesien die mense was so gaaf om elke stuk hout vir jou te nommer, dan moet jy net die ooreenkomstige nommer in die boek opsoek.

Na ek tevrede was met waar al die houte gaan kom. Hierdie foto lyk baie dieselfde as die een daarbo ne? Wel, hy's geneem omdat ek wou sien hoe lank dit my neem om al die parte uit te soek. Maar ek het ongelukkig vergeet om die tyd op die kamera te stel na die laaste battery-verplasing, so ek het geen rekord van hoe laat die foto geneem is nie. Bummer.

'n Verder 25 minute het ek aan skroefies getel en sorteer. Ek het hierdie foto geneem omdat ek geweet het my vrou gaan baie trots wees op my organisasievernuf. :)

Nou ja, nou gaan ek nie meer verder vertel nie, net so bietjie soos ek dit nou onthou (omdat ek nie die regte tye het nie) die skryf van hoe laat dinge gebeur het... Die foto hierbo was om en by 12:00. Mens moes eers al die skroewies en cam bolts ('n interne tegniese term wat slegs ervare lessenaar-aanmekaarsitters van weet :)) en dinge ingeskroef ensomeer...

12:45 daar is die eerste ding wat regop staan daar agter...

1:05 die anderkant se onderkant...

1:15. Ek sou miskien net hier noem dat hierdie miskien baie maklik lyk vir julle outjies wat in 'n agtermiddag hierdie desk van scratch af aanmekaar sou slaan nie. Maar kyk, dit is nie 'n grappie om hierdie meneer op jou eentjie aanmekaar te wiks nie. Jy moet mooi opline en baie kreatief wees met die res van die meubels in die huis om dinge vir jou op te hou en so aan! Nou begin dit al soos 'n lessenaar te lyk!

1:45. Daar's die blad op! Hierdie was lag lag die moeilikste deel van die hele projek! Eers het ek dit gedoen soos die boek aanbeveel. Maar die boek reken seker jy't 'n span ouens wat jou jelp. So toe doen ek dit anders sodat ek dit self kon regkry!

2:15. Daar's begin die "hutch" nou klaar te kom.

2:35. Na die hutch het ek oorgegaan na die lêerlaai. Sommer tjop-tjop.

3:15. Hierdie was 'n pret deel want mens moes die agterkant van die hutch met sulke spykertjies inslaan. Dit het soos die houtwerkklas gevoel. Alhoewel, die hele ou spul het eintlik so gevoel. :) Sien, die deurtjie aan die linkerkant onder is ok aan! En laat ek sommer hier vir diegene onder die lesers wat bietjie frons vir Jan se hand-vaardighede, daar is nie 'n deur wat skeef op is, of 'n laai wat nie lekker inrol, of 'n skrapie of skewe panel op die hele gedoente nie hoor! :))

3:30. TADA!!! Dit dan die finale produk! Nou moes ek begin om die rekenaar weer terug te sit en die drade uit te sorteer en die huis aan die kant kry...

5:15. Uiteindelik. Klaar met alles! Maar toe moes ek nog huis skoonmaak, my probleem is ek het op hierdie stadium al woes uit liegstories gehardloop om vir Maresa te vertel elke keer as sy bel en wil weet wat ek aanvang met myself... Sy reken ek het die dag gemors want elke keer is ek so "Eerr...., weet jy my skat, ek, eerrr...., ek maak so bietjie huis skoon. Ja, dit is wat ek nou doen." Of die ander keer het sy gevra of ek my tyd mors toe sê ek maar ja. :)) Wel, binnekort is sy by die huis dan sien sy die groot werk wat ek gedoen het! Vindicated!

hystoe :: wat's nuut :: joernaal :: allerlei :: gasteboek

© 2001 Jan & Maresa
Laas opdateer 12/01/2001