Indien jy nog nie weet nie, hierdie was die verassing-vakansie vir Marésa. Ek was aanvanklik baie ambisieus en het gereken ek kan die HELE vakansie geheim hou, maar ek het my vinnig in logistieke probleme vasgeloop wat dinge bietjie bemoeilik het. Plus, dis moeilik om iets so ongeloofliks weg te steek vir iemand met wie jy alles in jou lewe deel. So ek het gereken dis veilig om deur te gee dat ons wel vakansie gaan hou, maar die bestemming was hoogs geheim...
Of so sou dit in elk geval in 'n perfekte wêreld werk. Ek het egter op kenmerkende Jan-wyse die verassing so bietjie weggegee die aand voor die tyd. Eric en Lis het oorgekom vir Marésa se verjaardag en haar 'n panorama foto-raam gegee met 'n weggooi-kamera wat panorama foto's kan neem. Hulle het die geheim egter mooi bewaar. Jan was intussen op die foon en toe hy in die vertrek kom toe wys ek hom opgewonde die geskenk wat ek gekry het. Hy sê toe op die ingewing van die oomblik "Oh cool, for a picture of the Grand Canyon".
Jy kan jou indink die situasie wat gevolg het, Jan slaan sy mond toe en kan nie glo wat hy gesê het nie, Eric en Lis se oë rek en 'n ongemaklikheid kom oor hulle, Marésa staan tussen in en probeer compute wat sy pas gehoor het.
Wel, Marésa het gereken dis die beste manier waarop sy kon uitvind, en ek het darem nog die res van die plekke wat ons sou besoek in my geheimsakkie gehad wat ek kon spaar totdat ons op die vliegtuig is.
Arizona is drie ure agter Delaware, of eerder, behoort te wees, as hulle ook Daylight Savings Time gehad het. Maar hulle steur hulle nie aan die Daylight Savings Time nie, so ons het vir 'n week heen en weer oor 'n tydsone gespring. Utah doen wel Daylight Savings, so ook die Navajo (uitgespreek "Na-wa-hou") Indian Reservation, wat in Arizona is, mind you. Dis genoeg om van deurmekaar te raak - en ons het goed deurmekaar geraak - dit het ons ons vlug in Denver oppad terug laat verpas [bloos] - maar dis 'n storie vir 'n ander dag.
Ons het 6:00am vanaf Baltimore opgestyg en met die konneksie deur Denver, CO ongeveer 11:00 se kant (AZ tyd) in Phoenix aangekom. Phoenix is 'n massiewe stad wat Marésa reken die perfekte SimCity model sou maak. Perfekte blokkies huise, blokkies industriële gebied. Alles (wat ons beleef het) is silwerskoon. Die huise herinner mens aan Suid-Afrikaanse huise, dis meestal van bakstene gebou ('n rariteit in hierdie land). Ons het die huurmotor gekry en na ons die nodige benodigdhede vir kamp-opslaan gekry het, het ons noordwaarts gekeer na die Grand Canyon. As mens nie van beter geweet het nie, sou jy sweer die landskap net buite Phoenix is die Vrystaat wat met 'n reuse hammer bietjie ongelyk geslaan is:

Sedona is ongeveer 2 ure noord van Phoenix, geleë in die hartjie van 'n aantal mesa's en buttes (mens sê dit "bie-joets", amper soos biejoetifoel). Behalwe vir die baie beroemde "Pink Jeep Tours" wat mens kan neem om na die berge te kyk, is Sedona beroemd vir 'n ietwat weird rede. Die psychic Page Bryant het egter gereken dat hierdie plek die absolute konsentrasie van psigiese "energie" is. New Age mense van oral oor trek dus die plek toe om harmonie met die aarde en ander goete hier te vind. Klomp ander ryk afgetredenes reken ook nou dis cool om hier te kom bly. Die enigste energie wat ons egter gevoel het is opgewondenheid omdat ons op vakansie was, en siende dat Jesus reeds ewige vir ons ewige harmonie met die Vader bewerkstellig hets, het ons dit nie nodig gevind om te lank hier te vertoef nie. 'n Aantal buttes pop egter links en regs langs die pad op. Hierdie is "Courthouse Butte".

Marésa voor Bell Rock:

Die grond is droog en oortrek van klein kaktussies wat sekerlik jou baie seer sal maak as jy dit doelpale toe wil skop.

Ons het besluit om die scenic route na Flagstaff te neem, wat ons in 'n bergpas rondom en verby ongelooflike landskap geneem het. Die plantegroei het skielik verander in Pine bome voor mens jou kon kry.

Hierdie is die vallei waardeur ons gekom het tot hierbo, dis moeilik om te dink dat 'n halfuur vroeër het ons op daardie rooi sand gestaan en na die rooi berge gekyk. By hierdie stoppunt het ons kennis gemaak met die Navajo Indiane, wat bekend is vir hul handgemaakte juweliersware.
