Die Petrified Forest National Park lê soos 'n sak patats oor Interstate 40, 'n snelweg wat jou vanaf die ooskus na die weskus dra. So dis 'n baie maklike stop vir al die mense wat al drie dae op die pad is vanaf die ooskus van Amerika. Die Chinle Formation staan beter beken as die Painted Desert, oor die kaleidoskoop van kleure wat die landskap uitmaak.


Hier's ons tweetjies ook!

Hierdie wêreld was eens bewoon deur die Puerco Indiane, rondom die 1400's. Hierdie ruïnes bevat oor 'n honderd klein kamertjies wat deur die Indiane bewoon is.

Petroglyphs, van die Puerco Indiane. Hierdie area bevat van die rykste versamelings rotstekeninge in die VSA. As mens so na die prentjie kyk, lyk dit of iemand se baba deur 'n arend of 'n ding opgeraap is!

Die Petrified Forest, wat bestaan uit duisende massiewe boomstompe wat onder druk mineraliseer het. Mens kry die idee dat die park nie vir altyd gaan bestaan nie, die versoeking om van die klip op te tel en te vat is te groot vir te veel mense. In fact, die rots verdwyn uit die park teen 'n tempo van 'n ton per maand. Dis ongelooflik hartseer. Die museumpie in die park het selfs briefies wat mense aan die park skryf, as hulle van die rots terugstuur omdat hulle skuldig voel. Baie van dit is baie komies, baie mense reken al die slegte geluk in hul lewens is oor die rots wat hulle gesteel het en stuur dit dan terug. Nou ja, die mensdom darem.
Een gedeelte word genoem die Crystal Forest. Baie van die minerale in die hout was kristal, sodat die rots-stompe sou glinster in die son met al die kleure van die reënboog. Die industriële tydperk wat saam met samelewing gekom het vroeg in die eeu het egter net die oorblyfsels gelos, verspreide gemutileerde stukke rots.

Daar is geen twyfel dat hierdie rotse eens bome was nie. Die teorie is dat dit deur stormwater al langs 'n rivier af gevloei het tot hier. Die aarde het die stompe ingesluk, onder hoë druk die houtselle fossileer en later uitgespoeg na die oppervlak deur vulkaniese druk en geleidelike erosie van die grond oppervlak.


Hier is 'n stomp wat hol is aan die binnekant:

Om die vakansie af te sluit, het ons 'n rukkie op Route 66 gery. "Get your kicks on Route 66!"

Ons het die aand in Phoenix aangekom met die beste vakansie van ons lewens agter ons rugge. Dit was so ongelooflik, soveel meer as wat ons ooit verwag het! Ons was so dankbaar vir die mooi wat ons kon sien, die wonderlike ervaringe wat ons saam kon deurbring, en die beste van alles - 7 dae voltyds in mekaar se geselskap. Dis so 'n kosbare vakansie hierdie.
Oppad terug het nog 'n stukkie opwinding vir ons gewag. Ons aansluitingsvlug in Denver, CO, sou 'n uur na ons daar geland het vertrek. Wel, ons stel toe mos nooit ons horlosies nie, reken ons sal maar nog op Boshoff-tyd werk. :)) Dit beteken toe egter dat ons ons vlug mis (nadat ons REG by die wagkamer gesit het terwyl die vlug geboard het). :)) Sien, hulle het so bietjie verkeerd afgekondig ook, en toe sien ons neewat, ons is nog 'n uur vroeg ('n uur te vroeg volgens die Boshoff horlosies, wat natuurlik woes verkeerd is oor al die tydsones), ons gaan maar so bietjie rondloop en so aan. In die badkamers hoor ons toe daar roep hulle iets wat soos ons naam klink - en jou wrintiewaar ons is net te laat, die vliegtuig het sonder ons vertrek. Hulle sit ons toe op eersteklas op die volgende vlug, wat ons natuurlik dink is baie oulik van hulle. Wel, op die volgende vlug wil die vliegtuig NET opstyg, toe daar 'n ou agter in die vliegtuig reken hy like nie 'n geluid wat die vliegtuig maak nie, hy wil nie saamvlieg nie, hulle moet hom aflaai. Na ons so rukkie op die aanloopbaan staan en wag en hulle met die ou onderhandel, draai ons toe maar om en gaan terug lughawe toe om die pasassier af te laai. Toe die persoon egter hoor dat hierdie die laaste vlug na Baltimore vir die dag is, dring hy toe daarop aan dat die vliegtuig reggemaak word, eerder as wat hy eers die volgende dag kan vlieg. :)) Wow! Anyways, ons het eventually by die huis gekom, al was dit 6 ure later as beplan. Dit was egter baie lekker om in eersteklas te vlieg!