Saterdagoggend
Statue of Liberty

Saterdag was 'n ongelooflik mooi dag, die vorige aand het 'n donderstorm die meeste vuil uit die lug gewas en ons is geseën met 'n pragtige, helder perfekte somersdag Saterdag. Perfek vir uitkykpunte, wat natuurlik in oorvloed is in New York. Ons eerste stop was by die Statue of Liberty, die kenmerkende ikoon van New York en meeste van Amerika. Dit is die Eiffel Toring van Parys, die Toring van Pisa van Italië, die Tower of London vir Brittanje. Ms. Liberty staan op Liberty Island, 'n klein eilandjie in die baai - 'n perfekte plek om die wêreld te groet wat hier die "New World" ontmoet het.

Die kort rit op die ferry oppad na die beeld toe is ongelooflik in hoeveel uitsigte dit bied van die omgewing. Die Lower Manhatten skyline, die Brooklyn bridge in East River, die New Jersey kuslyn (met Hobocken hier op die foto hierbo), Ellis Island (meer hieroor later), die Verezzanno brug wat in die suide oor die baai loop om Staten Island en Brooklyn te verbind, ensomeer.

Natuurlik die mees ongelooflike uitsigte vanaf die ferry is van Lady Liberty self. Ek is so dankbaar dat ek 'n veel kleiner standbeeld verwag het. Dit is baie anders as hoe ek 3 jaar gelede daaroor gedink het, toe ek in die vliegtuig die eerste keer hierdie vreemde land onder my sien inskuif het. Al waarvoor ek toe gekyk het was die Statue of Liberty, wat ek verwag het gaan bo die stad uitpryk met die fakkel in die wolke. Ek het dit natuurlik nie gesien nie, en besluit dit moet dan seker maar klein wees :). Mense het daarna ook aan ons vertel dat dit baie kleiner is as wat mens dink.

Die Statue of Liberty is die grootste standbeeld ter wêreld, wat beteken dat mense met ongelooflike verwagtinge dit kom besigtig, eie aan die verwagtinge wat ek self gehad het. Baie dikwels is mense dan diep teleurgesteld om maar 'n 22-verdieping hoë kolossale brons-struktuur teë te kom. Niks om natuurlik om oor hartseer te raak nie. Ek is net dankbaar dat my aanvanklike verwagting ietwat verander het, want my mond het oopgeval op die spesifieke Saterdagmore. Hierdie beeld inspireer mens, dit is glad nie moeilik om te verstaan hoe dit 'n nuwe hoop in die harte van miljoene Europeërs aan die begin van die eeu laat spring het om na Amerika te vaar om die "American Dream" te gaan nastreef nie.

Hierdie foto wys die totaliteit van Liberty Island mooi. Moenie dat die grootte van die vlag jou bluf nie, daai vlag is reusagtig op sy eie :) . Die eiland hou so entjie voor die regterkant van die foto op, kyk op die water langs vanaf die ferry om die kuswal te sien. Die bome in die verre agtergrond is New Jersey./p>

Hier dan Lady Liberty in haar volle glorie.

"Give me your tired, your poor,
Your huddled masses yearning to breathe free,
The wretched refuse of your teeming shore.
Send these, the homeless, the tempest-tossed to me.
I lift my lamp beside the golden floor!"

- Emma Lazarus

Emma Lazarus was 'n digter wat genader is om 'n inskripsie te skryf wat sou pas by die standbeeld. Dit dan wat sy gedoen het en wat gelei het daartoe dat nie net 'n paar verweerde Oos-Europese immigrante met sterretjies in hul oë hierheen immigreer het, vol hoop dat die strate werklik hier van goud gemaak is nie. As jy mooi kyk sien kan jy die mense sien op die pedestal net onder haar voete. Sien die swart vierkantige blokkie? Dis die deur waar mens uitstap en dan rondom die pedestal loop, 10 verdiepings bo die grond.

Die Statue is 'n baie gewilde spot in Amerika. Tot so mate dat mens in hierdie massiewe ry moet wag voor jy eers binnekant die gebou kan kom! Dit het ons 'n uur en 'n half se wag gekos voor ons eers binne kon kom, waarna ''n verdere 40 minute se slakkepas stap teen die trappe op ons tot by buitekant gebring het. Mens wonder meer as een keer of die view van daar bo af regtig die wag werd is!

Om die tyd te verwyl, het ons maar die Let's Go en ons Lonely Planet gidsboeke nadergesleep om ons opgewondenheid te stimuleer! Vroeër in die ry het die "Park Ranger" (ouens in uniform wat boffins is en bereidwillig is om jou te help met enige vrae) gesorg vir vermaak. Hy moes sekerlik in die aande in die Manhatten comedy clubs gaan optree het, want hy het die wag die moeite werd gemaak met sy pittige opmerkings. Elke nou en dan het hy die hele skare mense gekry om saam met hom te "Gimme a L, Gimme a I, Gimme a N, Gimme a E, What does that spell? L I N E ! ! ! , That's what you'll be in for the next hour!". Dan lag hy lekker en almal lag floutjies maar verleë saam omdat hulle weet hy praat die waarheid. Dis so snaaks, hy het dit eintlik goed gevat, want omtrent almal wat naderstap vra hom of hierdie regtig die ry is om op te gaan in die statue. Dan se hy maar gedwee ja, "If you're willing to stand next to all the people from the Midwest who came out here and thought there would be no-one at the Statue of Liberty on Labor Day weekend". Of grappies oor lawyer, wat natuurlik die spreekwoordelike Jan van der Merwe is.

Ons het met groot verwagting die naweek gegaan om ten minste EEN beroemde persoon te sien. Maar nou ja, dit het natuurlik nie gebeur nie. Die naaste wat ons gekom het aan celebrities is toe 'n kamera-man en 'n verslaggewer van ESPN Sports Channel nadergestap het en 'n onderhoud met ons gevoer het. Dit sou baie cool gewees het en dalk gemaak het dat ons ons vriende met ESPN daarop laat wys het om 'n ogie uit te hou vir ons, maar die ouens was van ESPN Brazil… en ons het nou nie eintlik vriende in Brasilië wat ons weet van, wat ESPN het nie. Nietemin. Hier neem ek gemaklik posisie in aan't voete van die Lady, lekker Mr. Coolio na ons debuut as internasionale sterre op ESPN Brazil.

Nou ja, nou begin die mooi uitsigte wat mens het vanaf die 10 verdieping "pedestal" (ag iemand laat weet my tog die Afrikaanse woord vir daardie klipgebou onder die Statue). Verreweg die 2 ure wag werd, hier is 'n ongelooflike uitsig op die Lower Manhatten skyline, met die World Trade Torings wat die res van die geboue verdwerg. Daardie tros geboue verteenwoordig die magtigste en mees gekonsentreerde ekonomiese aktiwiteit in die wêreld. 9/15/2001 - Nou ja julle, dit is regtig vandag baie hartseer dat as ons terugkyk dat daardie twee geboue nie meer daar staan nie. In een van die gruwelikste tereurdade wat die w dat daardie twee geboue nie meer daar staan nie. In een van die gruwelikste tereurdade wat die wêreld nog gesien het, is dit etlike dae terug (en etlike dae na ons besoek aan New York) verwoes. Ek het besluit om nie aan my kommentaar hier onder te verander nie. Dit maak mens hartseer om dit te lees. Dis reg, mens moet vergeet hiervan en terugkeer na normaal, maar ons het besluit om ons gedagtes rondom hierdie geboue op die bladsy te los, sodat daar binne ons 'n herinnering aan hierdie dade ook is. Want ons moenie alles vergeet nie, ons moenie vergeet van die "sense of urgency" wat dit in hierdie land gebring het om hulself tot God te keer nie, soos Jesus ook in Lukas 13:4 met sy omstanders deel. Ons moenie vergeet van hierdie week waar politiese korrektheid skielik by die venster uit is en mense gemaklik en in die openbaar van gebed praat, van God en van ons roepe na Hom. Hierdie week waar die president van hierdie land op nasionale TV tot God alleen gebid het, nie in 'n afgewaterde inter-geloof humanitarian toesprakie nie. In 'n kerk, persoonlik tot God die Vader.

Die World Trade Center is glo so hoog dat die twee geboue letterlik verder uitmekaar is aan die bokant as wat hulle onder by grond is, as gevolg van die ronding van die aarde. Weetie, kan nie eintlik sê nie. Daar werk 50,000 mense in daardie twee geboue, ingeprop in 10 miljoen vierkante voet kantoorruimte.

Die Empire State Building, eens die trots van die Manhatten skyline, is ver in die agtergrond op die eerste foto daar bo, na die linkerkant toe. Hier het ons egter op hom ingezoom. Is ok nice ne?

Ellis Island. Dit was die poort na Amerika vir 'n beraamde 12 miljoen immigrante aan die begin van die eeu. Die ferry loop in 'n sirkel vanaf die suidelike punt van Manhatten na Liberty Island, na Ellis Island en terug na Manhatten. Dit sou dus ons volgende stop wees. So later weer meer hieroor.

Brooklyn bridge in die verte. Hier kyk ons op met East rivier aan die Oostekant van Manhatten verby. Sou mens teen hierdie rivier opvaar, kry jy eerste Brooklyn, dan Queens en laastens die Bronx aan die Oostekant, met Manhatten aan jou Westekant.

Die beeld staan op 'n reuse ster, wat deel was van die Fort waarop die pedestal vandag staan. Fort Wood het jare terug deel uitgemaak van die beskerming van die baai. Hier is twee van die sterpunte vanaf die pedestal. Die Statue of Liberty is 'n gesamentlike poging van die Franse en die Amerikaners. Francis-Auguste Bartholdi, die brein agter die beeld, het in die 1870's die standbeeld ontwerp as simbool van die vryheid en die eenheid wat Amerika verkry het net na die burgeroorlog, asook die vryheid wat aan slawe verleen is in Amerika. 'n Meer pragmatiese siening van Bartholdi se motivering vir die standbeeld is om Amerikaanse ondersteuning te verkry om die alles behalwe vrye Franse Koninkryk tee te staan, met Napoleon III aan bewind en die rewolusie aan't kome. Die standbeeld self is totaal deur die Franse publiek finansier deur donasies, terwyl die pedestal deur inwoners van New York self betaal is. Joseph Pullitzer, 'n miljoenêr Hongaarse besigheidsman wat die "American Dream" vir hom 'n werklikheid gemaak het deur sy uitgewers "empire" - en natuurlik die oorsprong van vandag se "Pullitzer Prize", het mense regoor die stad opgeroep om hul pennies in die hoed te gooi vir hierdie pedestal. Ons het die idee gekry dat hulle nie so baie geld gemaak het as wat hulle graag sou wou nie, as mens na van die oorsrponklike ontwerpe vir die pedestal kyk onder in die museum, maar nietemin het hulle nie sleg gedoen nie ne!

Dit dan ons "Ons was ook daar" foto.

New York hawe in die agtergrond, met 'n volgepakte ferry hier voor. Die ferry vat oor 'n duisend kletsende, glimlaggende, foto-nemende toeriste op 'n slag om onder Lady Liberty se rok te kom inkyk.

Die Verazzano brug. Daardie brug is ons belewenis van New York gewees voor hierdie naweek! Dit is die brug waaroor ons telkemale gery het na JFK Internasionale lughawe om Suid-Afrika toe te vlieg. Elke keer wat ons oor die brug gery het, het ons ons nekke woes gedraai om te sien of ons die Statue kan sien, maar nooit suksesvol nie. Daar is die veel staal in daardie brug om mens enige uitsig te bied. Seker ook maar goed, mens se oë moet daar op die pad wees :) . Die brug is self iets ongeloofliks, 'n dubbelverdieping agt-baan snelweg wat Staten-Island en Brooklyn verbind.

Vanaf die pedestal boontoe. Die beeld is groen omdat die brons soos Aluminium maak. Anders as yster, vorm die roes 'n dun beskermende poeierlagie rondom die metaal wat voorkom dat die oksidasieproses die metaal heeltemal wegvreet. Yster skilfer af en gaan tot niet, maar aluminium en brons kan baie lank hou. Die poeier is natuurlik ook wat Brasso in besigheid hou :) .

Nou ja, ek wou vreeslik graag 'n foto van Maresa neem met Manhatten in die agtergrond, so toe doen ek dit. Sy het my ook gewaarsku dat sy dink haar oge is toe, maar ons het die kans gevat. Toe is dit toe ook toe. Ook maar goed, want ons local Acme kruideniersware winkel waar ons die foto's laat ontwikkel het, het hul eie artistieke inslag gelewer met 'n pers blertsie daar op die linkerkant. :)

Dis vir my 'n mooi foto hierdie :) . Mens kry so 'n halwe idee van die grootte van die standbeeld as jy kyk na die mense hier op die tweede en derde vlakke van die pedestal, en daar bo op die tiende verdieping.

Hierdie hond cool foto het Marésa geneem. Die gesig van die Statue het Bartholdi vanaf sy ma se gesig af modeleer. As mens op die eerste ferry, 8:30 in die more na die beeld kom, kry jy geleentheid om met 'n spiraal stel trappe in haar lyf op te klim tot daar by die kroon. Daar is piepklein vliegtuigvenstertjies wat mens dan so stukkie van die omgewing mee kan besigtig. Dit neem jou egter gemiddeld 3 ure om bo te kom as gevolg van al die mense en die slakkepas wat dit jou dus neem. Ons het toe gereken dit is nie heeltemal die moeite werd nie. Die enigste ding wat dalk goed sou wees om te sien is die interne struktuur, wat deur die einste Gustave Eiffel ontwerp is. Die rede hoekom slegs die eerste ferry se mense mag opgaan is omdat dit soos 'n oond daar binne raak hier teen die middag. Die beeld is natuurlik een groot hol metaal struktuur wat heeldag lekker in die son staan en braai. So dit raak hittig daarbinne! Daar is 'n addisionele stel trappe wat teen die arm oploop tot bo by die fakkel, maar dit word slegs gebruik vir onderhoud. Die fakkel het aanvanklik baie water gelek (die Amerikaners het baie veranderings gemaak aan die oorspronklike - nou-nou meer daaroor) wat daartoe gelei het dat die staalstruktuur by haar skouers vreeslik geroes het en die gevaar geloop het om haar arm langs haar sy te laat opeinding. Dit is egter in 1986 versterk, met die 100ste verjaardag, asook die inhuldiging van die huidige fakkel.

Hierdie dan die oorspronklike fakkel, oftewel, die erg vervormde oorspronklike fakkel. Die Amerikaners wou kort na die inhuldiging van die standbeeld die fakkel verlig en het die boonste brons tippie afgesny (dis nou die driehoekie hier in die middel bo) en vervang met daardie glasdakkie. Hulle het dan vuur daar binne gemaak. Onthou, dit was die 19de eeu :) . Toe dit nie regtig goed werk nie en dit meer skade as goed aanrig, het hulle een of ander bekende Amerikaanse kunsetanaar gekry (kan nou nie meer die meneer se naam onthou nie) om die fakkel te herontwerp om meer lig uit te laat. Sy idee was toe om die brons fakkel te vervang met hierdie talle venstertjies. Nou ja, dit is wat die baie lekke veroorsaak het. Water het al langs die arm afgeloop en die skade aan die skouerstruktuur veroorsaak. Vandag is die fakkel weer baie nader aan die oorspronklike ontwerp van Bartholdi. Die fakkel is solied en met goud gedek (ongeveer $5,600 se fyn goud-foelie), met ligte wat onder aan wat dit deur die aand verlig.

Hier is dan 'n volskaalse replika van Bartholdi se ma se gesig, ook die Statue of Liberty se gesig. Pretty neat ne. Dit is nou in die museum onder in die pedestal, waar talle sulke interessante uitstallings is, net om jou behoorlik genoeg van die Statue te gee, as jy tot op hede nog nie genoeg gehad het nie. ;)

Ons het middagete geniet op die gras buitekant die standbeeld, oorskiet pizza van die vorige aand se Bartholdi's. Die volgende ferry sou ons neem na Ellis Island, maar meer later daaroor (mensdom, dis nou die derde keer dat ek dit sê!) Hehehe, maar die slag is ek ernstig, want nou moet ek gaan slaap ek sal eers hierdie aan julle stuur as hoofstuk 1 in hierdie foto-joernaal van ons besoekie aan New York!

Ellis Island is iets ongeloofliks. Mens leer ken die hart van die Amerikaanse bevolking en verstaan soveel beter hoekom Amerika waarlik 'n "melting pot" van kulture is. Hierdie gebou is waar miljoene mense deur gekom het om Amerika binne te kom. Baie dikwels het families vir maande hier op die eiland gebly, terwyl hulle gewag het vir geld van hulle tuiste af, of as een van die familielede siek was, sou die gesin eers hier gehuisves word om nie die siekte die land binne te gaan nie. Mense het met 19de eeuse tasse, bokse en dinge, alles wat mens saam jou neem as jy jou wortels in een land lig en trek na 'n ander land toe, hier aangekom. Sommige van die lokale het nog van hierdie items wat mens kan besigtig. Dit is regtig 'n emosionele storie, mens kyk na die besittings van mense wat hulle die naaste aan die hart gelê het, belangrik genoeg om oor die Atlantiese Oseaan saam op die boot te neem. Vir verskeie redes het hierdie besittings dit egter nooit tot binne die land gemaak nie. Ons het na hierdie dinge gekyk en identifiseer met hierdie mense, enkelinge tussen skares vreemdelinge, op vreemde grond.

Gedurende die besigste jare van Ellis Island - en piek immigrasie na die New World, 1890-1920 - is tot 5000 mense per dag deur hierdie saal. Hulle het natuurlik gekom om die American Dream na te streef, baie dikwels in antwoord op miljoene plakkate en voubiljette wat deur die Amerikaanse regering regdeur Europa versprei is. Daar is baie lekker braaivleis gesprekke agter hoekom die Amerikaners soveel as moontlik Europeërs hierheen wou bring, dit spreek van die Europese mentaliteit van daardie tyd. Mense was nodig om hierdie massiewe land te bewoon, bewerk en tot 'n nasie te bou (ongeag die mense wat reeds duisende jare hier gewoon het). Nietemin, in hierdie sale het miljoene mense nuwe name gekry, nuwe dokumente, nuwe kulture en vir sommiges, nuwe lewens. Vir diegene wie die kultuurskok te veel was, was daar altyd New York, met klein, armoedige gemeenskappies van mense regoor die wêreld. Gemeenskappies wat futiel probeer het om hul kulturele identiteit in die New World te behou. Die mure van hierdie museum vertel die verhaal van soveel van hierdie mense met foto's, koerantberigte, uitstallings en wat nog meer. Hier vind mens in 'n agtermiddag seker die mees intieme kykie op die Amerikaanse verhaal van vroeg die 20ste eeu. Vir ons was die hoogtepunt 'n reuse Amerikaanse kaart, met 'n kontroletafel waarop mens jou land se kode kan insleutel en op die kaart sien hoeveel immigrante van daardie land in elke staat van Amerika bly. Die data is van die 1999 sensus. Daar is volgens die rekenaar slegs 36 Suid-Afrikaanse immigrante in Delaware! Sommige state, soos North Dakota en Montana, het geen Suid-Afrikaners nie, met die gewildste state Kalifornië, Texas, Florida en New York. In daardie state is daar gemiddeld so 4,000 Suid Afrikaners elk.