Aankoms Vrydag - Saterdagoggend
Museum of Natural History, Little Italy, Lower Manhattan

Kyk, ons was darem maar woes opgewonde gewees vir hierdie New York trippie hoor! Ons het mos die vorige naweek, net so ter voorbereiding, "Breakfast at Tiffany’s" gekyk, dit is 'n klassieke New York film en ons het gedink dit sal ons goed voorberei op die naweek. Dit het nie heeltemal nie, maar dis okay, ten minste het dit ons in die mood gekry :). Ons het in elk geval die hele week voor ons gegaan het altwee "New York New York" gesing dat die biesies bewe, opgelees oor alles wat ons sou gaan besoek en sommer net opgewonde gewees. Dis weird, want ons is nie regtig mal oor die stad-stad idee nie, gewoonlik as ons deur NYC gery het oppad huis toe vanaf die lughawe het ons nog nooit eintlik inspireer gevoel nie. Maar iets rondom die voorbereiding vir 'n naweek weg het dit natuurlik vir ons gedoen.

Ons is vroeg Vrydagoggend weg, seker so 7:00 se kant in die pad geval. Parkering in NYC is ongelooflik duur, veral oornag. Dit wissel tussen $25 en $30 per dag, wat die verblyf bietjie duur sou maak, so ons het besluit om by Newark, NJ internasionale lughawe se langtermyn parkering te parkeer teen ‘n billike $8/dag. Dit het natuurlik beteken dat ons moes vanaf Newark lughawe tot in die stad kom, maar die publieke vervoerstelses daar in die metropolitaanse gebied is baie billik. Ons moes eers ‘n bus vanaf die lughawe na Penn Station, NJ neem, daarna die New Jersey moltrein onderdeur die Hudson Rivier na die World Trade Center stasie in Manhatten en vandaar die NYC Transit moltrein op in Manhatten. Kyk op die kaart heel Wes vir Newark lughawe, vanwaar ons naweek begin het.

Ons het besluit om die naweek in ‘n Youth Hostel te bly, ter wille van die begroting en sommer om interessante mense te ontmoet. Maar ons was nie voorberei op hoe moeilik dit sou wees om plek te kry nie. Nee, herfraseer, dit was nie moeilik nie, dit het net behels dat mens op 'n baie geduldige tydskaal jou dag moes deurbring. Sien, ons het seker so teen 12:00 nm by ons aanvanklike keuse vir verblyf aangekom. Ons het uiteindelik net noord van Central Park ingeboek in "Park View Hotel". Dis regtig nie ‘n hotel nie, eerder 'n hostel. Ons het egter ons eie kamer gehad, al het ons die badkamer met ander gedeel.

Manhatten is iets ongeloofliks. Net vinnig, New York City bestaan uit 5 "boroughs". Manhatten, Brooklyn, Staten Island, Queens en die Bronx. Ons hele naweek was in Manhatten. Mens kan ‘n jaar daar spandeer. Manhatten is ‘n eiland 13 myl lank, maar slegs ‘n paar myl breed, tog, daar bly meer as 15 miljoen mense.

Dit was bietjie reënerig Vrydagmiddag, so ons het eerste vir ‘n museum gemik met die hope dat dit die volgende twee dae beter weer sou wees. Eerste stop was dus die American Museum of Natural History (AMNH). AMNH is die grootste wetenskap museum in die wêreld met meer as 34 miljoen specimens, so in een middag sien mens nou nie eintlik die hele kaboedel nie. Maar ons het hom ‘n goeie go gegee hoor. Hulle "special exhibition" is huidiglik die hele ou storie rondom die menslike gene wat uitgefigure is. Dit is baie indrukwekkend, (die uitstalling), ons monde het oopgehang. Die coolste van dit was egter so een donker kamer waar daar ‘n kamera jou afneem en dan ‘n moewiese rowwe silhoutte van jou teen die muur projekteer, met niks detail nie, maar die silhoutte word gevorm deur duisende CGAT lettertjies (die boublokkies van DNA). Dit is baie cool, veral as jy die rare geleentheid kry om al die kinders wat in die kamer is voor die kamera weg te kry om jou eie silly moves te kan maak en te sien hoe jou hand in DNA taal waai :). Daar is kontroversie rondom die standbeeld wat hier voor die museum staan. Dit is ‘n standbeeld van Rooseveldt (op die perd), maar let op die twee ouens wat langs hom staan. Een is ‘n kaalvoet Indiaan en die ander is ‘n kaal swartman, terwyl Teddy oor hulle uittoorn op sy perd. Nie ‘n baie polities korrekte ding nie ne, maar tog het die standbeeld al die jare se protes tot dusver oorleef. Kyk daar staan Marésa langs die pilaar heel regs, met die blou hemp aan, after die vrou wat die trappe oploop!

Hier’s my mooiste vroutjie weer. Ek het bietjie ge-eksperimenteer met die lekker zoom lens wat ons die naweek gehad het :).

Die ander baie neat gedeelte van die museum is die dinosaurus sale. Die AMNH is baie uniek as ‘n museum dat hulle daarop aandring om die regte fossiele van die dinosaurusse wat hulle uitstal te gebruik in die uitstallings, eerder as ligter en goedkoper gegote bene. Dit beteken dat die fossiele wat jy aanskou die einste geraamte van die reptiel wat die tien duisende jare gelede die aarde betrap het.

Hierdie seuntjie (en so paar van sy tjommas) was besig met ‘n skoolprojek oor die dinosaurusse. Hy was so verdiep in sy werk dat hy nie eens geweet het ek neem hom af nie, hier teken hy ‘n fossiel van ‘n blaar. ‘n Blaar, tussen miljoene en miljoene dollars se fossileerde bene van die mees eksotiese reptiele wat mens jou kan indink. Ok maar lui, ‘n blaar is darem baie meer eenvoudig om te teken as die pterodaktiel of iets :). Toegegee, die hoeveelheid kunstigheid wat vereis word om ‘n blaar te skets is nie heeltemal in dieselfde liga is die vernuftigheid wat nodig is om ‘n pterodaktiel of iets weer te gee nie! Ek moet dus bieg, ek reken ek sou ook gehol het vir die blaar as ek myself in sy skoene moes bevind!

Mens wil so graag op jou tyd deur die plek kan stap om alles in te neem. Die hoeveelheid inligting wat in daardie geboue op elke beskrywing vasgevang is, is iets ongeloofliks.

Hier’s die pterodaktiel nou, pretty amazing ne, om te dink dis die voorvader van die voëls gewees (as jy in ewolusie glo). Mean ne? Imagine een van hierdie outjies moes jou bespring!

Immergewilde T-Rex, met Marésa in die voorgrond. Daar word spekuleer oor hoekom hulle T-Rex nie regop laat staan het nie, maar eerder vooroor laat buk. Vir ons lyk dit maar net of die dak bietjie laag was ;), maar daar is glo wetenskaplike gronde daarvoor. Oh well, verander nie eintlik die prys van eiers nie ne.

Die ander ding wat die museum baie gewild gemaak het is hoe hulle Mr. Brontosaurus voorstel, met sy stert hoog die lug in (sien op die volgende foto kan jy rofweg in die agtergrond dit sien). Dit was tot onlangs ongehoord van, omdat mense geglo het sy stert sleep agter hom op die grond.

Die regtig amazing gedeelte van die museum is in hierdie klas van uitstallings soos hier gewys word. Hierdie gedeelte kom uit die "African Mammals" saal uit, maar dit is tipies van hoe al die uitstallings van diere lyk. Daar is ongelooflike sorg ingesit om die opgestopte diere in hul natuurlike habitat voor te stel. Okay, okay, ons het ook nie gedink dit is so hot dat dit nou opgestopte diere is nie. Maar imagine jy's 'n 12-jarige New Yorkse snuiter wat die museum besoek. Dit verg nie baie verbeelding om totaal verlore te raak voor hierdie venster nie, jy kan amper die Afrika lug ruik so goed is dit gedoen. Dit is 'n baie klein kamertjie waarin jy inkyk, dan is die perspektief so geskep dat jy amper nie kan sien wanneer die dooie gras ophou en wanneer die geverfde muur begin nie. Daar is talle sulke uitstallings van al die diere soos mens hulle in die wild sou aantref.

 

Nou kyk, lag lag die hoogtepunt van die museum is hierdie reusagtige sfeer. Dit is deel van die "Rose Space Center". Ek dink amper hulle het eers 'n Imax teater in hierdie ding se plek gehad, maar hierdie verreweg baie cooler. Dit is 'n reistog deur lengteskale. Mens begin aan die anderkant van die vertrek en die sfeer by 16 biljoen ligjaar (die geskatte grootte van die heelal) en eindig amper hier waar ons staan en die foto neem by 0.00000000000000001 meter, wat ek nou nie meer kan onthou presies wat dit was nie. Die grootte van 'n proton of iets van die aard. So, nou die HOND HOND cool gedeelte. Vir elke lengteskaal, word die sfeer, getiteld die Hayden Sphere gebruik om jou 'n relatiewe idee te gee van hoe groot een ding tot 'n ander is. M.a.w. by die grootte van die heelal rond sal daar staan "If the Hayden sphere represents the estimated size of the Universe, then this model is the size of our supercluster", waar die supercluster dan so piepklein perspexballetjie voor jou is. Sien, die melkweg is gelee in die supercluster, die sonnestelsel in die melkweg, die aarde in die sonnestelsel. Vir elkeen van hierdie groottes word die grootte van ons omgewing relatief tot die Hayden sfeer gestel. Dis amazing en gee jou 'n ware perspektief op hoe leeg die heelal werklik is, hoe groot dit is, hoe piepklein fraksie van die heelal ons sonnestelsel is, en ultimately, hoe piepklein fraksie van alle ruimte ons as mense beslaan. Die sfeer is 26 meter in diameter en binnekant kan mens 'n 3 minute multimedia extravaganza aanskou waar die "big bang" simuleer word. Daar word natuurlik nie genoem dat die Here die "Big Bang" gemaak het nie. Kyk daar in die agtergrond is Saturnus en Jupiter in vergelyking met die son (die son is dan die Hayden sfeer). Op die voorgrond gang modelle van water en metaan, in vergelyking met 'n piepklein virus (die Hayden sfeer). Dit was nou genuine amazingly cool. Wanneer mens uit die teater binne die sfeer stap, loop jy in 'n spiraal na die onderste verdieping. Die heelal se geskiedenis (soos die mens dit huidiglik verstaan) word op die loopplank uitgebeeld. So jy begin die odd 6 biljoen jaar terug (ek dink so, kan nie meer lekker onthou nie), soos jy aanloop is elke tree wat jy gee dan honderde miljoene jare in tyd. Alle geskiedenis van die aarde is ingeprop in die laaste paar centimeters van die loopplank. Ongelooflik.

Reg onderkant die sfeer is 'n restaurant, waar hierdie meteoriet uitgestal word. Hierdie kwaai omie wat daar staan wou niks weet van padgee dat ek die foto neem nie. Ek het ook nie gevra nie, hy het my baie suur aangekyk toe ek met die kamera daar gaan staan toe dag ek, oh well, dan is hy nou maar deel van die prentjie. Ja hierdie is 'n genuine meteoriet! Dit is die Williamite meteoriet, weeg 15.5 ton en bestaan omtrent heeltemal uit yster en het na beraming die aarde teen 64,000 km/uur benader om kennis te kom maak. Ek dink die aarde het daai rondte in die kosmiese boksgeveg gewen. Hierdie meteoriet is een van ongeveer 25,000 wat al gevind is op die aarde, een van slegs 600 wat uit yster bestaan.

Hier staan ons onder die Hayden spheer en neem Saturnus en Jupiter bo ons af. Die posisies van die planete is natuurlik nie op skaal hier gehang nie, slegs hul groottes is op skaal. Ons het 'n toergids hoor verduidelik dat as hulle die afstande ook op skaal wou doen, sou hulle een van hierdie Planete in Princeton, New Jersey moes hang, wat ongeveer 160 km ver is van die sfeer is.

Van hier is ons oor na die uitstalling van Amerikaanse woude. In die prentjie is 'n gedeelte van 'n 1,500 jaar oue "Giant Seqouia" wat vroeg in die 20ste eeu afgesaag is. Is dit nie ongelooflik nie? Die boom is die Mark Twain boom. Weet nie waar die res van die boomstomp is nie, hoop nie dit is verbrand nie. Die hout is behandel, maar dit het 'n pragtige diep kleur. Op plekke is bas tot 'n voet dik gewees.

Hier staan Jan voor nog 'n reusagtige meteoriet getiteld Ahnghito, wat ook meestal uit yster bestaan. Hy weeg 'n hefty 34 ton! (Nie Jan nie, die meteoriet).

Vrydagaand na die museum is ons na Little Italy om aandete te gaan eet by Lombardi's. Dit is 'n piepklein restaurantjie (mind you, al die restaurante wat ons kon bekostig se plek was baie beperk - huur is nie regtig tjiep in New York nie), maar is baie beroemd omdat hulle die gewilde "New York style" pizza begin het. Dis pizza met 'n baie dun kors, gemaak in 'n koolsteen oond. Die pizza was presies dit, en genuine die geld werd gewees. Vars wilde sampioene en Pancetta ('n tipe van spek, verwerk op die Italiaanse manier) met 'n ongelooflike tamatiesous vir die basis. Weet nie wat hulle gebruik vir daai tamatiesous nie, maar dit was besonders! Die restaurant wen gereeld pryse vir "Best pizza in the World". Onthou egter vir New Yorkers is NYC die wêreld. Na aandete het ons in Mulberry St. afgestap, wat toegemaak is vir verkeer oor die somer en 'n ongelooflike atmosfeer huisves. Die straat is toegepak onder Italiaanse restaurante en geskenkwinkels, met hier en daar 'n Chinese winkel wat fake Rolex horlosies verkoop - iets wat oorstroom uit naburige Chinatown. Ons het lekker "gelato" geëet - tuisgemaakte roomys. Hierdie foto is 'n tipie blommewinkel in New York. Daar is duisende van hierdie winkels, wat binnekant enigeiets van 'n groentewinkel tot 'n kafee tot 'n apteek kan wees (hierdie een was 'n apteek). Vars blomme is 'n groot mark - maak sin as mens dink die hoeveelheid beton waarmee hierdie mense elke dag moet saamleef.

Saterdagoggend is ons vroeg op om die dag te begin. Oh natuurlik, Vrydagaand het maar woes gegaan in die stad. New York word nie verniet genoem "The City that Never Sleeps" nie, ons is telkemale wakker gemaak deur mense wat buite in die straat sing en dans. Tieners wat speel en wat wat nog. Almal in sy eie taal, almal op sy eie manier. Anyways, ons wou vreeslik graag vir ontbyt 'n ware New Yorkse bagel geëet. Bagels is Brooklyn se nederige bydrae tot Westerse beskawing, so ons het gereken die bagels moet goed smaak hier. Maar ons kon nie op ons beperkte tydsbegroting 'n bakkery opspoor Saterdagoggend nie en moes maar by die naaste Starbuck Coffee ingaan. Starbucks is besig om New York oor te neem, met 'n winkel op seker elke tweede straathoek. Nietemin, ons is daar getreat met 'n ongelooflike kykie op die vroegoggend "Vat jou hond vir 'n stap" show. Dit is so snaaks, die volgende roetine het homself 'n honderd maal herhaal:

  1. Baas en Hond benader die Starbucks.
  2. Baas sien die Starbucks en jy sien die besluit op sy/haar aangesig.
  3. Baas gaan op sy/haar knieë naby aan 'n paal en verduidelik ernstig en intens aan Hond terwyl hy/sy agter Hond se rug die loopbandjie aan die paal vasmaak. Hond reken natuurlik hierdie is prime time aandag en merk nie die feit dat die loopbandjie van Baas se hand na die paal verskuif nie.
  4. Baas staan op en maak sy weg na die Starbucks se ingang.
  5. Hond se reaksie hang klaarblyklik van sy intellegensie af. Dom Hond reken prime time is oor en stap rustig voort saam met Baas, en siende dat die paal nie saam met Baas na die Starbucks stap nie, word Hond verwoedelik teruggeruk wanner die beperkte lengte van die loopbandjie opraak. Slim Hond sien die Starbucks en neem sy posisie as paalwagter aan, met oë stip op Baas gerig om seker te maak die Baas kry nie te min kleingeld as hy sy koffie koop nie. Somtyds was daar interessante interaksie tussen verskillende Honde wat vir Base wag.
  6. Ongeag die intellegensie van die hond, die roetine volstaan altyd met Hond wat Baas groet asof Baas 'n jaar weg was. Afhangende van Baas se intellegensie, juggle hy/sy minder of meer effektief die volgende drie balle: uitspattige hond, die loopbandjie se knoop rondom die paal, en vuurwarm koffie in Baas se hand.

Na ontbyt, by die Starbucks op die hoek van Chambers en Broadway straat, is ons af in Chambers om die Manhatten City Hall te besigtig. Oppad daarheen het ons egter gestop om hierdie foto te neem. So ver jou oog kan sien is dit geboue. Mense wat klaustrofobies is moet liefs hier wegbly. Alhoewel ons dat New York sekerlik die oorsprong van klaustrofobie moes wees (ek weet nie of ek dit reg spel nie!).

Die Manhatten munisipale gebou, voltooi in 1914, het hierdie ongelooflike fasade wat bo mens uittoorn. Kyk al die honderde venstertjies!

Hierdie is nou die onderkant van naby. Die argitektuur herinner mens aan die tipe geboue wat jy in Parys aantref. Die foto is so bietjie skeef want ek het in die middel van die pad gestaan en moes mooi time tussen al die verkeer deur. Hier storm 'n Honda op my af, so ek reken ek het al beginne hol toe ek eers die knoppie druk!

Net verby die munisipale geboue is Brooklyn Bridge. Hierdie brug word wyd beroem as een van die mooistes in die wêreld. Daar is interessante geskiedenis rondom die brug. Dit het die bynaam "Suspended Cathedral" oor die ontwerp van die torings waaraan die brug hang. Die brug verbind die suide van Manhatten met Brooklyn, en het ver oor die res van New York gepryk toe dit voltooi is in 1883. Vandag word dit natuurlik verdwerg deur die reusagtige wolkekrabbers van Manhatten. Die hoof-argitek (John Roebling) is dood voordat die projek voltooi is, hy het sy voet vergruis in 'n ongeluk tydens landmeting. Sy seun, Washington het egter die projek tot voortgesit, maar het egter mal geraak voor dit klaar is. Uiteindelik is dit voltooi deur Washington se vrou, Emily Warren. 20 Mense is dood tydens konstruksie van die gebou, maar dis nie die ergste nie, kort na die opening van die brug is 12 mense dood vertrap nadat mense gedink het die brug stort ineen en histeries aan't hol gegaan het. Ongelooflik ne.

'n Fonteint in City Hall Park, waar mens 'n oomblik van kosbare vrede kan beleef.

Kyk net hierdie ongelooflike geboue. Dis die Woolies gebou, nie Woolworths nie, eerder Woolworth. Die gotiese argitektuur en imposante toring laat die gebou uitpryk bo die res van die buurt. Dit is opgerig in 1913 deur F.W. Woolworth as 'n kantoorgebou en staan in die lang lys van geboue wat eens die hoogste in die wêreld was. Die Woolworth gebou het 17 jaar daardie titel gedra, totdat die Chrysler gebou, bietjie noord van waar ons nou staan, in 1930 opgerig is. Na die Chrysler natuurlik die Empire State gebou, en daarna die World Trade Center. Vandag is die titel iewers in die ooste, ek is nou nie seker presies waar nie, maar klaarblyklik maar met 'n paar meter.