
Ons het mos na South Street toe gegaan in die oggend, daar is allerhande winkeltjies en plekke. Dit is 'n baie weird en kultuurryke en kleurvolle gedeelte van die stad. Hier is so paar snapshots:
Die surfer bar:

Die hele gebou is so beverf. Dit is nice ne! Jim's Steakhouse:
Ons moes eintlik hier gaan eet het net om te proe hoe hulle kos is. Philly is bekend vir 'n "Philly Cheesesteak". Dit is 'n baie olierige toebroodjie. Mens kry klomp sulke repies vleis op 'n lang rolletjie met kaassous hoor. Dit is dan 'n Philly Cheesesteak. Maar dit is nie wat hulle by Jim's verkoop nie, Jim's is 'n tipiese diner. Hier is Lorenzo and sons Pizza, "The best pizza on South Street", weetie, het nie self probeer nie.

Kyk tot die McDonalds is kleurvol geverf:

Hehehe, dit lyk of die gebou gaan omval, maar eintlik is dit net ek wat nie die kamera mooi regop gehou het nie... Die TLA, of Theatre of the Living Arts, is die tipiese plek waar nuwe opkomende musiekgroepe hulle verskyning maak. Ons wil nog een aand soontoe gaan om na dit te gaan kyk. Sien, die volgende dag sou "Echo and the Bunnymen" daar gespeel het. Weet nie hoe dit moet klink nie.

Vanaf South Street het ons die bus gevat na die historiese gedeelte van Philadelphia. Eerste na die Betsy Ross huis. Dit is die huis van die vrou wat die oorspronklike Amerikaanse vlag ontwerp het (hy hang hier onder in die agtergrond). Op Independence Day sien mens orals sulke opvoerings soos hier onder, waar mense soos in die 18de en 19de eeu aantrek en dan in hoë engels praat en so aan. Hier het hulle 'n opvoering gedoen oor "Street manners", dit was skreeusnaaks. Die twee regs het die reels vir straat maniere gelees, en dan doen die twee links dit. Op hierdie oomblik word hulle aangese om nie hard in die openbaar te lag nie, wat hulle natuurlik baie goed dan doen.

Hier is dan die Betsy Ross huis, met die groot vlag wat sy ontwerp het. Philadelphia is vol sulke "Trolleys" waarop mens kan klim en dan vat hulle jou deur die stad. Ons sal dit doen as julle kom kuier en ons kan saam Philadelphia toe gaan. Ek dink die trolley is op nog 'n latere foto, maar hier onder steek een so bietjie uit.

Vanaf die Betsy Ross huis is ons na die Independence Mall. Philadelphia is waar Amerika as onafhanklike land gebore is, want dit is hier waar die "Decleration of Independence" onderteken is deur al die onderskeie goewerneurs. Die decleration was 'n dokument waarin al die kwale wat die Amerikaners teen die Engelse Koning gehad het, uiteengesit is. Hulle het ook talle eise daarin gestel, en dit is wat uiteindelik tot die oorlog tussen Amerika en Engeland gelei het, wat Amerika natuurlik gewen het, daarom dat hulle onafhanklik is. :))
Hierdie hieronder is 'n skaalmodel van al die geboue in die Independence Mall met brail skrif oral oor. Dit is sodat blinde mense 'n gevoel kan kry van hoe die geboue lyk en hoe die uitleg werk. Ons het gedink dit is nou baie oulik.

Die is die eerste nasionale bank van Amerika. Dit het die regering se bank gehuisves vanaf 1797 tot 1811 en is die oudste bankgebou in Amerika.

Carpenter's Hall. Die swart skaduwee is die spook van Jefferson wat vandag nog daar in Indenpendence Mall rondwandel, maar wat mens net op film kan sien, nooit in lewende lywe nie. Mens neem ook net altyd 'n foto van hom as jy seker maak dat jou kamera se strappie voor die kamera se lens verbyhang. Hoe dit ookal sy, hierdie Carpenter's Hall is die plek van ontmoeting van die eerste "Continental Congress" in 1774. Dit is waar die eerste ernstige vergadering was wat uiteindelik gelei het tot die decleration of Independence.

Hierdie is nou die tweede nasionale bank van Amerika. :) Hierdie gebou word as een van die beste voorbeelde van moderne Griekse argitektuur in Amerika beskou, alhoewel ek bietjie van sy mooi dak uitgesny het. Dit is regtig 'n baie indrukwekkende fasade, amper soos die kunsmuseum, wat julle later sal sien.

Daar marseer oral in die stad hierdie soldate, as deel van opvoerings van die oorlog tussen Engeland en Amerika. Bo is die soldate, en onder is drom-outjies wat tyd aangee. Al wat ek gewonder het is hoe warm die tjommas nie in daardie klere moes kry nie hoor! En op albei is my pragvrou!


Kyk nou net hierdie omie wat ons in vasgeloop het daar waar George Bush sy toespraak gemaak het. Dit was nou omtrent vir jou 'n ding hoor. Die snaakste van alles is egter, toe ons nou-die-aand hierdie foto's vir Jason en Andrea wys, toe se hulle hierdie selfde omie was hulle toergids toe hulle in Philadelphia getoer het vroeer die maand saam met die Spanjaarde. Dit is nou toeval ne! Maar kyk, 10/10 vir die oom se patriotisme.

Hier staan ek in 'n winkeltjie met 'n een van die ou hoede op en lees die decleration of independence.

Hierdie outjies het so baie oortollige energie gehad dat hulle op 'n vuurwarm agtermiddag geraas wou maak oordat Bush die presidensie kwansuis gesteel het. Bush het die dag daar 'n spietsj gemaak, ons kon hom egter nie sien nie, net hoor. Kyk ek is ook op die foto - daar regs, ek staan en gesels met 'n ou oom wat in die Vietnam oorlog geveg het. Hy was so honger vir gesels hoor, ek kon skaars daar wegkom. Maar hy was baie oulik. Dit was so weird, want toe ek vir hom sy opinie vra oor die klomp betogers, toe vertel hy vir my hoe hy onthou hoe dieselfde ding gebeur het toe sy Pa hom en sy broer gevat het toe hy 12 jaar oud was om na Franklin D. Rooseveldt te gaan luister hier in Philadelphia iewers in die jare veertig. Sjoe, dis die president wat ek van in geskiedenisboeke lees, en hierdie oom het hom gesien.

Ons het hierdie kerk in 'n systraat gesien en gedink dit is baie mooi, daarom dat ons hom afgeneem het. Maar ons weet nie eintlik veel meer van dit af nie...

Hier is dan die Philadelphia City Hall. Hulle is tans besig om dit te restoureer, die foto wys dit nie baie goed nie, maar daar is 'n ongelooflike verskil tussen die toring, waar die restourasie reeds afgehandel is, en die res van die gebou!

Hier is ons nogsteeds by die City Hall, maar die agtergrond wys nog 'n groot katolieke kerk op die plein. Ons het die ou gevra om nog 'n ander kerk na die linkerkant se toring ook in te kry, maar hy het seker nie gedink dit was 'n goeie idee nie. Oh well..

Hierdie is Logan Square. Dit is nou al amper by die kunsmuseum. Die feesvieringe het reeds vroegdag al begin. Later dieselfde aand sou hierdie plek gepak gewees het met al die mense hoor. Philadelphia is vol van kuns, hulle spandeer jaarliks 1% van die kapitale begroting vir geboue aan kuns. Dit maak dat daar oral standbeelde en dinge is.

Hierdie is nou Ben Franklin Parkway waarop ons staan. Hulle het dit toegemaak vir verkeer en het allerhande stalletjies daar gehad. Dit is waar al die miljoen mense ook was later in die aand. Die gebou daar voor in die agtergrond is die kunsmuseum, en voor dit kan julle sien is 'n moewiese groot TV-skerm op (dit het twee mense wat vir mekaar kyk op) - in fact, ek kan nou nog onthou presies watter advertensie daardie is wat nou daar speel op die TV, want hy het die HELE dag elke drie minute gespeel. Grrrrr.

Ons het by die een promosie ons foto laat neem! Dit was vir Carnation Instant Breakfast (sulke lekker milkshakes). Ons kon toe die volgende oggend hierdie foto van die internet aflaai:

Daar was mos 'n optog later in die dag. Ek het nie eintlik baie daarvan afgeneem nie want ek het regtig nie gedink die foto's sal uitkom nie. Maar ek moes maar, want hulle het toe eintlik uitgekom! Hierdie is een van die vlotte, dit Pennsylvania se beauty queen wat daarop staan, maar natuurlik, sy is nie op die foto nie. Ek dink net haar arm steek agter die bossies uit soos sy vir die mense waai, moenie worry nie, sy was in elk geval nie so mooi nie.

Hierdie trompoppies was so oulik hoor. Hulle is so 'n parmantige klomp dogtertjies, seker nie ouers as 6 of 7 nie, maar hulle het ritme hoor! Die swartmense in Amerika het 'n baie unieke kultuur, en die ritme van Afrika is nog baie integreer in hulle manier van dinge doen. Maar hierdie klomp was so goed ons het ons verstaar aan hoe die dogtertjies daardie ritme loop en danse doen en allerhande goeters. Baie oulik.

Hier is Benjamin Franklin Parkway dan nou later in die aand, dit is gepak met die mense! Die slag neem ek die foto terug na die City Hall se kant toe - julle kan die toring daar in die agtergrond sien. Dit was natuurlik al baie donker - daarom dat dit nie so goed lyk nie. Die aand se vuurwerke was ongelooflik. Ek wens ek kon nou onthou hoeveel ton hulle nou weer opgeskiet het, maar dit was regtig besonders. Die het net so bietjie laat begin! Voor die vuurwerke het Garth Brooks opgetree en 'n hele spul ander kunstenaars wat ek nie nou meer kan onthou nie. Daar was 'n opvoering deur 'n stuk of tien baie bekende akteurs (o.a. Whoopi Goldberg, Mel Gibson, Wynona Ryder, ag ek weet nie wie nog nie...) wat die Declerations hardop gelees het.

Net toe die vuurwerke ophou, het dit egter begin sous soos dit nooit tevore het nie. Julle, dit het GA-RIENT. Dit was eintlik so 'n cool atmosfeer, want mense het in Ben Franklin afgestroom by die miljoene (daar was oor 'n miljoen mense daar die dag) in die reën. Dan finaal het ek die kaart ingescan sodat julle kan sien hoe ver ons geloop het na al die feesvieringe toe verby is. Daar was g'n bus te siene toe ons klaar is nie, so ons moes maar stap! Ons het begin net onder "Easkins Oval" daar by die kunsmuseum hier regs bo, en opgeeindig weer terug in South Street 'n uur later. Ek dink ons het 'n goeie pas gestap want dit was VER, en dit was baie nat, want dit het gesous hoor! Maar dit was nou 'n genuine lekker ondervinding. Ons het eers 12:30am by die kar gekom, en eers 1:45am by die huis. Toe is behoorlik moeg na die lang dag se rondlopery!
